Simbiose

'n Simbiotiese verhouding: die narvis eet die invertebrate wat die see-anemoon kan beskadig, terwyl die vis se afskeiding die see-anemoon van voedingstowwe voorsien.

Simbiose (Grieks: syn = saamwees + bios = lewe) beteken letterlik "saamlewe" en verwys na enige direkte en intieme saamleefverhouding tussen twee organismes van verskillende spesies. Bioloë onderskei tussen drie soorte simbiosie, naamlik kommensalisme, mutualisme en parasitisme. Diere in 'n simbiotiese verhouding word simbionte genoem.

Wanneer die verhouding verpligtend is en albei organismes daaruit voordeel trek, staan dit bekend as mutualisme. Wanneer 'n soortgelyke verhouding nie verpligtend is nie, met ander woorde indien die organismes indien nodig afsonderlik van mekaar kan leef, staan dit bekend as proto-koöperasie.

Kommensalisme is 'n verhouding waar een van die simbionte bevoordeel word, maar die ander een nie bevoordeel of benadeel word nie. As een van die simbionte bevoordeel word terwyl die ander een toeval lig benadeel word (byvoorbeeld deur skadelike uitskeidings, ensovoorts), staan die verhouding as amensalisme bekend. Wanneer een van die simbionte ten koste van die ander voordeel trek uit die verhouding, staan dit bekend as parasitisme.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search